Sportdag by Huis Goedversorg verskaf pret en plesier
Die bestuur van Huis
Goedversorg, Boshof se tehuis vir bejaardes, bied gereeld
ontspanningsge-leenthede vir sy inwoners aan.
So 'n geleentheid was Dinsdagoggend die 5de April, 'n heerlike bewolkte
oggend toe 'n sportdag gehou is. Alle
inwoners het in die straat voor hul huis, waar die geleentheid plaasgevind het,
bymekaargekom, sommige in rolstoele,
ander met loopringe, ander met 'n kierie of 'n kruk, maar almal opgewonde en
oorgehaal vir die kompetisie. Drie spanne het deelgeneem, die rooi- en groenspan
van Huis Goedversorg en die dorpspan. Die rooi- en groenspanne was baie georganiseerd met hul
kapteine wat ook die rasieleiers was en dit het jolig gegaan. Benewens die singery, is 'n "boeee!" ook kort-kort
gehoor. Die dorpspan het bestaan uit toeskouers wat toevallig opgedaag het om
die geleentheid by te woon.
Daar is in ses verskillende items en in die ouderdomme onder 100, onder 90, onder 80 en onder 70 meegeding. Almal wat enigsins kon, het deelgeneem en as een wil kop uittrek, het Trudie hom of haar gaan haal en dit was groot pret toe Trudie vir Oom Piet Niemann, wat aanvanklik bietjie steeks was, baan toe gaan haal het en hy toe skielik afsit op 'n stywe draffie wat selfs Trudie moes spook om by te hou – Oom Piet se litte was toe behoorlik los en hy het vir geen item uitgesit nie. Tannie Mimmie de Wet (95) het ook haar kant gebring – daar was nie kompetisie vir haar nie, maar sy het in die rolstoelafdeling deelgeneem en in die naellope het sy die afstand twee keer geloop. Die spanne het deurentyd kop aan kop geloop, maar die uiteindelike wenner was die rooispan met die groenspan tweede en die dorp derde.
Die tyd het heeltemal te gou omgegaan en Trudie Pieters, bestuurder van Huis Goedversorg en haar personeel wat ook almal betrokke was, asook Marie en Rian van Vuuren wat verantwoordelik was vir alle reëlings moet bedank word vir 'n aangename oggend.