Boshof se Boere het nuwe hoop dat hul
"koöperasie" weer hul koöperasie sal word waar hulle sal lus voel om
besigheid te doen, toe hoofbestuur van Suidwes onlangs op 'n vergadering hier in
die Boshof Hotel, hul nuwe strategie wat vir die toekoms beplan word, bekend
gestel het. Boere het ook die geleentheid gehad om die nuwe bestuur te ontmoet.
Mnr Louis Smit, besturende direkteur, het
erken dat Suidwes vir lank die veeboere afgeskeep het en gesê dat hulle graag
meer betrokke wil raak by die veeboere.
Verskeie dienste wat deur Terratek aan die
boer gelewer kan word, is deur Mnr IB Oosthuizen bekend gestel. Al
Terratek se dienste word saamgevat in landbou-ekonomie se evaluasies met
projeksies oor vyf, tien en selfs vyftien jaar – waar van toepassing.
Terratek fokus op die aspekte wat winsgewendheid verhoog en daarom word al
Terratek se dienste aangepas op 'n pasmaak-basis vir elke produsent se unieke
behoeftes. Alles wat hulle vir die boer doen, is gebaseer op navorsing.
Mnr Anton Jordaan, Hoofbestuurder Suidwes
Fin het besonderhede gegee van wat Suidwes finansier en die versekering wat
hulle verskaf.
Besonderhede van 'n totale "facelift" vir alle takke wat nie op standaard is nie, is deur Mnr Patrick Nelissen, Hoofbestuurder Kommersieel uiteengesit. Boshoftak is nie op standaard nie en groot veranderinge sal in die tak kom, binne sowel as buite, want, het hy gesê, die winkels is hul vertoonvensters en mense moet lus kry om by hulle te koop. Daar sal binne die volgende vyf tot ses maande begin word met die opgradering van die tak en dit behoort oor 18 maande voltooi te wees.
Omdat bemarking baie belangrik is, gaan
hulle in die toekoms drie groot promosies per jaar hê, naamlik Winter, Lente en
Feesseisoen by elke tak dieselfde, wat goed geadverteer sal word onder die naam,
"Nou Pra' jy". Daar sal ook maandelikse promosies wees – elke
maand met 'n bepaalde tema byvoorbeeld veemedisyne en veetoerusting as een
promosie. Beskikbaarheid van voorraad is belangrik en daar moet besluit
word wat verkoop word en daardie voorraad moet altyd beskikbaar wees. Jy
kan nie 'n handelsbesigheid bedryf sonder voorraad nie, het hy gesê.
NWET, Suidwes se kommunikasie verskaffer wat
ook deur lede gebruik kan word, is bekend gestel. Hulle verskaf alle
dienste, rekenaartoerusting en sagteware en selfs opleiding .
Meganisasie gaan ook binnekort verander.
Waar werk tans by die werkswinkel gedoen word, sal elke tak 'n toegeruste
voertuig hê sodat die werk op die plaas gedoen kan word.
Mnr Louis Smit het besonderhede verskaf van
Suidwes se strategie vorentoe wat daarop neerkom dat die winste wat uit
boerdery gemaak word, aan boere-aandeelhouers terug gegee word in die vorm van
aansporingskortings en aandele en dat 'n nuwe maatskappy gestig gaan word vir
buite-aandeelhouers.
|
Alhoewel daar nie 'n probleem behoort te wees nie, het Mnr Smit gesê dat
hierdie planne nog deur die direksie aanvaar moet word.
Hoofbestuur van Suidwes: voor van links, Patrick Nelissen (Hoofbestuurder Kommersieel), IB Oosthuizen (bestuurder Terratek), George Potgieter (Direkteur Finansies). Agter: Louis Swiegers ( bestuurder Boshoftak), Bernard van Zyl (Streek-kredietbestuurder), Anton Jordaan (hoofbestuurder Suidwes Fin), Louis Smit (besturende direkteur) en Manie van Rensburg (NWET)
![]() Willie Weich en Sarel Dippenaar |
![]() Handré Lubbe en Johan Beylefeld - Louis Swiegers met rug na kamera |
![]() Andrie de Kock en Calla van Niekerk |
![]() Van links, Boeta de Waal, Ben Steyn, Willie Botha, Louis Swiegers en Tiekie Combrink |
![]() Seun Oosthuizen en Tol du Toit |
![]() Boeta de Waal, Ben Steyn en Willie Botha |